Tuisbladsy

Wie is ons

Affilieer by VVOS

Geaffilieerde skole

VVOS seminare

VVOS werkswinkels

Kleuterskool registrasie

Inligting vir ouers

Inligting vir versorgers

Terapeute

Nuusbrief

Foto-album

Beskikbare poste

Kontak ons

Lys van uitstallers

English


Kos vir kleuters
Zelda Ackerman

Die regte kos kan maak dat kinders hul beste potensiaal bereik, en ons kan hulle help om van daardie kos te hou.

Studies toon dat eetgewoontes wat in kinderdae aangeleer is, oorgedra word in volwassenheid. Gesonde eetgewoontes is nie net belangrik vir optimale fisieke en kognitiewe ontwikkeling van kleuters nie, maar kan hulle ook beskerm teen hartsiektes, diabetes, kanker, osteoporose en obesiteit later in hul lewens. Ouers speel die belangrikste rol om gesonde eetgewoontes by kinders te kweek. Vir baie kinders is die skool egter hul tweede huis. Sommige kleuters spandeer tot 12 ure per dag by die skool en wat daar gebeur kan vir hulle dus selfs ‘n groter impak hê as die huislike omgewing.

Onderwysers en ander personeel het dus die voorreg en verantwoordelikheid om klein veranderinge aan te bring wat kinders sal help om lief te wees vir gesond eet en aktief wees. Onderwysers en skole kan die volgende doen om kinders gesonde eetgewoontes te leer:

1. Skep ‘n gesonde voedingsomgewing

Kinders sal selde die appel kies indien hulle ‘n keuse moet uitoefen tussen ‘n sjokolade en ‘n appel. Ons behoort dus ‘n omgewing te skep waar kinders eerder kan kies tussen ‘n appel en ‘n perske.

Stel ‘n skoolreël in dat slegs gesonde kospakkies skooltoe gebring mag word. Gee ook vir ouers riglyne rondom wat gesond is. Kies een spesifieke dag van die week wanneer ‘n klein lekkerny deel van die kospakkie mag wees. Tydens skoolpartytjies kan onderwysers ouers vra om slegs een feekoekie of roomys vir elke kind te bring in plaas van ‘n hele pakkie lekkernye.

Gee slegs water om te drink vir kinders en geen versoete drankies soos versoete tee, koeldrank of aanmaakvrugtesap nie. Gereelde inname van versoete drankies leer kinders om dit te verkies. Dit word ook verbind met die ontwikkeling van oorgewig en diabetes. Wanneer maaltye deur die skool verskaf word, maak seker die spyskaart is gesond. Bly weg van tipiese “kinderkos” soos weense worsies en skyfies en gee liewer gewone huiskos soos kapokaartappels met vis en ertjies.Elke maaltyd behoort ‘n vrug of groente te bevat. Bedien klein, ouderdomsgepaste porsies en laat tweede opskepkanse toe. Die beste voedsel vir ‘n tussenvoeding is vars vrugte. Wees kreatief daarmee en maak dit pret. Dit kan kinders help om lief te word vir gesonde kos. Laat kinders rustig by tafels sit en eet en nie buite rondhardloop met kos of voor ‘n televisie sit en eet nie. Indien die skool ‘n snoepwinkel het, maak seker dat slegs gesonde items beskikbaar is.

2. Hou kos vir voeding

Wanneer ons kos gebruik om kinders te kalmeer, te troos as hulle seergekry het of goeie gedrag te beloon, kan kinders leer om hulle emosies met hongerseine te verwar. Dit kan emosionele eet later in hul lewens tot gevolg hê. Ons behoort ook nie te straf deur kos of lekkernye van kinders af weg te neem nie. Wanneer ‘n kind hartseer is of seergekry het, behoort ons eerder te troos met ‘n liefdevolle drukkie of ‘n pleister en trooswoorde. Goeie gedrag behoort eerder met iets nie-eetbaar soos ‘n ballon of plakker beloon te word indien ‘n gewone “mooi so” nie genoeg is nie.

3. Stel ‘n goeie voorbeeld

Kinders kyk na wat ouers en onderwysers doen. Volwassenes wat ‘n voorbeeld stel van gesond eet, water drink en aktief wees, kan kinders aanmoedig om dieselfde te doen. Moenie oor jou eie voedselafkeure praat nie. Maak seker dat alle personeel die nodige kennis het rondom die bediening van kos en gebruik van lekkernye.

4. Maak gesonde kos pret

Wees kreatief met vrugte en groente tydens bak-en-brou. Pretaktiwiteite met gesonde kos skep positiewe assosiasies by kinders en kan so bydra tot gesonde eetgewoontes. Maak vlinderbroodjies waarvan kinders self die vlerke kan versier met stukkies vrugte. Maak karretjies van piesangs met druiwewiele of ‘n diergesiggie met ‘n verskeidenheid vars gesnyde groente.

Gebruik klasaktiwiteite om kinders vreemde kosse te laat proe. Die sosiale druk kan kleuters help om vrese vir vreemde kosse te oorkom en hulle help om groente en vrugte te eet wat hulle andersins moontlik nie sou nie.

Hoe lyk ‘n gesonde kosblik

‘n Gesonde kosblik bestaan uit minstens een vars vrug of groente. Daarby kan ‘n melkproduk soos ‘n bakkie ongegeurde jogurt gesit word, of ‘n klein stysel soos Provitas, springmielies, droë ontbytvlokkies.

 

Vir gesonde spyskaarte vir kleuterskole of kosblikspyskaarte kyk by www.family1stnutrition.com

Zelda Ackerman,geregistreerde dieetkundige, www.family1stnutrition.com, zelda@family1stnutrition.com



Webwerf deur Ontowebmedia en Inligtingsdienste