Skoolgereedheid: Waar begin dit en waar pas dit in?
Wietske Boon
Skoolgereedheid is nie ‘n proses wat eers in die Graad R jaar begin nie. Dit begin reeds voor geboorte en strek tot wanneer die kind Graad 1 betree. Die eerste vyf tot ses jaar van elke kind se lewe berei hom of haar dus voor vir skool.
Voordat ‘n kind gebore word, ontwikkel die fetus tot gereedheid om gebore te word. In die eerste lewensjaar bereik die baba sekere ontwikkelingsmylpale – soos rol, sit, kruip en loop. Soos die kleuter groei en ontwikkel, ontwikkel taal, fisiese groei en –vaardighede, kognitiewe vermoëns, persepsie en sosiale en emosionele vaardighede. Sou ‘n kind op een of meer ontwikkelingsvlakke ‘n agterstand in vordering toon, word die kind verwys na ‘n terapeut om daaraan aandag te gee. So word ‘n baba wat nie wil kruip nie, verwys vir arbeidsterapie of die 3-jarige maatjie wat aggressief optree, vir speelterapie. Dit is reeds die begin om die kind gereed te maak vir skool.
Skoolgereedheid raak die kind, maar ook die ouers wat verantwoordelik is om die kind op te voed en te stimuleer, asook die skool wat op sosiale en ontwikkelingsvlak ‘n groot rol in die kind se skoolgereedheid speel. So ook berei die kind se omgewing en hulpbronne uit die gemeenskap hom of haar reeds van babajare af voor vir die dag wat hy of sy Graad 1 betree.
Skoolgereedheid behoort dus nie gesien te word as ‘n formele proses met formele assessering in die Graad R klaskamer nie. Die kind leer en ontwikkel spelenderwys soos sy liggaam en verstand ontwikkel in die eerste ses jaar van sy lewe. Kinders se werk is om te speel!
Terwyl die kind spelenderwys leer, ontwikkel die volgende vaardighede:
1. Groot motoriese vaardighede
Hierdie vaardighede word bemeester soos groot-spier ontwikkeling plaasvind wanneer die kind hardloop, balskop, boomklim of fietsry. Dit is veral belangrik om die kind te help om stil te sit, vir konsentrasie en om te kan skryf.
2. Fyn motoriese vaardighede
Die fyn motoriese vaardighede word versterk soos die fyn spiere in die hand ontwikkel. Hierdie spiere word gebruik wanneer ‘n kind byvoorbeeld skryf of knip.
3. Persepsuele vaardighede
Persepsie het te doen met die prosessering en begrip van inligting wat deur die sintuie na die brein gestuur word. Wanneer ‘n kind legkaarte bou, blokke op mekaar stapel, prente voltooi en ‘n verskeidendheid speletjies speel, word persepsuele vaardighede bemeester.
4. Kognitiewe vaardighede
Kognitiewe vaardighede is belangrik vir redenering, probleem-oplossing en abstrake denke (soos benodig in Wiskunde).Speletjies waar kinders objekte van groot na klein rangskik, objekte groepeer volgens kleur, vorm of grootte bevorder kognitiewe vaardighede.
5. Taalvaardighede
Taal vaardighede is belangrik vir enige vorm van kommunikasie. Deur baie stories en rympies te hoor of speletjies te speel soos: “Ek sien iets wat met ‘n ‘l’ begin” of “Ek sien iets wat rond is...” en die kind dit in die vertrek moet soek, word taalvaardighede bevorder.
6. Sosiale vaardighede
Kinders het nodig om sosiale vaardighede te ontwikkel om binne die groep aan te pas. Deur groepspeletjies te fasiliteer of die kind reg te help wanneer hy of sy byvoorbeeld ‘n maat seergemaak het, wordtot positiewe sosiale vaardighede bygedra.
7. Emosionele vaardighede
Kinders behoort emosioneel gereed te wees vir Graad 1 om byvoorbeeld aan te pas,die uitdagings van Graad 1 te kan hanteer en teleurstellings te kan oorkom.
Omdat die veranderinge van Graad R na Graad 1 groot is, is dit belangrik om te verseker dat die kind se ontwikkeling van geboorte tot op vyf jaar op standaard is. Daarom is dit soms nodig dat ‘n kind deur ‘n professionele persoon geassesseer word vir skoolgereedheid. In uiterste gevalle is dit nodig dat ‘n kind die Graad R jaar herhaal, maar in die meeste gevalle is die doel van professionele skoolgereedheidsassesserings om die kind die geleentheid te gee om die korrekte terapie te ontvang om agterstande in ontwikkeling op te vang voor hy of sy die volgende jaar Graad 1 betree.
Wietske Boon,Spelterapeut, wietske@childtherapist.co.za; www.childtherapist.co.za