Emosionele ontwikkeling in die babajare
Nicolene du Preez
Wat is emosie?
Emosie is ‘n komplekse toestand wat verskillende senuweestelsels, die organe en gevoelens aktiveer (Gouws and Louw 1979:73). ‘n Kind se emosies beinvloed sy/haar hele liggaam.
Stimulasie gedurende die babajare
Gedurende die eerste jaar van ‘n baba se lewe is dit belangrik dat daar ‘n hegte ma-kind band gevorm word. Dit is belangrik dat die kind ‘n gevoel van veiligheid en liefde ervaar. Die emosionele band tussen ‘n ouer en ‘n kind vorm die eerste basis van verhoudings.
Verbale en fisiese stimulasie is veral belangrik vir positiewe emosionele ontwikkeling. ‘n Ouer moet met ‘n kalm stem met die kind praat. Hou in gedagte dat die baba vir 9 mannde fisiese liefde en versorging in die ma se baarmoeder ervaar het. Emosies het ‘n effek op die liggaam en dus is fisiese kontak belangrik om ‘n gevoel an aanvaarding en liefde te kweek.
Praktiese idees vir emosionele ontwikkeling gedurende die babajare
- Glimlag terug: Glimlag vir jou baba en reageer positief wanneer baba vir jou glimlag.
- Praat: Praat met jou baba deur vir haar te vertel hoeveel jy haar lief het, wat jy van haar hou en hoe gelukkig sy jou maak. Dit gaan nie oor die woorde nie, maar die manier waarop jou baba die kommunikasie ervaar.
- Drukkies en soentjies: Babas geniet liggaamskontak met hul ouers. Veral gedurende die ouderdom van 8 – 11 maande wanneer babas veral aan hul ma’s geheg is en vreemdelinge vermy. Dit is belangrik dat baba in hierdie situasies veilig voel. Wanneer ‘n baba veilig voel vorm breinontwikkeling wat nodig is vir verhoudinge in sy/haar latere lewe.
- Fokus en erken: Babas reageer positief wanneer daar aan hul behoeftes voorsien word en negatief wanneer hulle ongemaklik voel en behoeftes nie bevredig word nie. Maak tyd om postief op jou baba se behoeftes te reageer en wees ‘n positiewe rolmodel vir hom/haar.
Verwysing: Gouws, M. Louw, P. 1979.Psigologie woordeboek. McGraw-Hill: Johannesburg.