Die voordele van buitespeel
Wietske Boon
Die natuur is ‘n baie hulpbronryke leer omgewing. Iets wat ons maklik as vanselfsprekend aanvaar en nie optimaal benut nie. Buite speel hou voordele vir elke area van die kind se ontwikkeling in: fisies, kognitief, sosiaal en emosioneel.
Sintuiglike stimulasie is belangrik vir kinders om in kontak te wees met hul omgewing, om hul omgewing te ervaar en daaruit te leer. Hul het die geleentheid om die blomme te ruik, die voëls te hoor sing of verskillende teksture te ervaar soos die gras onder hul voete, en te kan onderskei tussen verskillende sintuiglike inligting.
Terwyl kinders hardloop, boomklim, spring en fiets ry ontwikkel die groot spiere wat uiters belangrik vir onder andere ‘n kind se vermoë om te kan stil sit en te kan konsentreer.
Buite speel is belangrik vir kreatiwiteit. Kinders kry die geleentheid om hul eie speletjies uit te dink of hul eie konstruksies te bou deur die gebruik van natuurlike hulpbronne.
Wiskundige vaardighede ontwikkel deurdat kinders byvoorbeeld klippies of blare bymekaar maak, dit tel, rangskik, in patrone pak en eksperimenteer met dit wat tot hul beskikking is.
Wanneer ‘n kind buite speel, fisies aktief is en deelneem aan fantasiespel ontlaai hy ook van sy emosies, kry hy die geleentheid om die dag se gebeure te verwerk, raak ontslae van oortollige energie en dit verlaag aggressievlakke.
Buitespeel is van die belangrikste boustene wat formele leer vooraf gaan. Sonder hierdie vaardighede sukkel baie kinders met formele leer.
Behalwe vir leer geleenthede, is buite speel lekker, dit maak kinders gelukkig voel, bevorder hul immuunstelsels wat lei tot gesonder kinders. Dan eet en slaap hul ook sommer beter.
Wietske Boon, Spelterapeut, www.childtherapist.co.za, wietske@childtherapist.co.za