Afknouerigheid
Wietske Boon
Afknouerigheid is enige verbale of reaksionêre gedrag wat aggressief van aard is en wat aan ‘n ander persoon skade veroorsaak.
Afknouerige gedrag is die gevolg van aggressie en/of oneffektiewe hantering van emosies. Afknouerigheid kan ook veroorsaak word deur die nabootsing van gedrag van invloedryke persone byvoorbeeld aggressiewe ouers, sibbe, vriende of filmsterre. Kinders leer deur ander se aksies te observeer en na te boots. Dit is dus belangrik dat kinders positiewe rolmodelle en vriende het. Die verhoudings in die gesin moet vir hierdie rede positief wees. Straf moet van so aard wees dat dit nie aggressie uitbeeld nie, maar eerder beskou word as ‘n daad van liefde deur ouers wat die beste vir hul kinders wil gee.
Skep gesonde alternatiewe vir kinders om emosies soos woede te hanteer. Fisiese aktiwiteite kan kinders help om ontslae te raak van al die energie wat in hul liggame gestoor is. Terapie kan kinders ondersteun om hul situasie en emosies op ‘n positiewe wyse te hanteer.
Die slagoffer van afknouerigheid is gewoonlik ‘n goed-opgevoede kind wat nie teen die oortreder sal optree nie. Ouers en onderwysers behoort die slagoffers te ondersteun deur die kinders basiese vaardighede te leer om die situasie effektief te hanteer. Die afknouerige persoon behoort ook in hierdie geval aangespreek en gehelp te word.
Die afknouerige kinders en die slagoffers daarvan sal baat vind by professionele bystand en ondersteuning.
Wietske Boon, Spelterapeut, www.childtherapist.co.za; wietske@childtherapist.co.za