Inkleur aktiwiteite: fyn motoriese vaardighede
Monique Harris
Eerstens, fynmotoriese vaardighede is die bewegings van die kleiner spiere van ons liggaam en sluit die gekoördineerde bewegings van die hande, gewrigte, vingers, voete, tone, lippe, tong en oë in. Hierdie vaardigheid verg ‘n groot mate van beheer en presisie.
Die primêre oorsaak van fynmotoriese kontrole probleme is ‘n tekort of oormaat in spiermassa. ‘n Kind met ‘n verhoogde spiertonus kan dalk foute maak gebasseer op die ooraktivering van spiere wat veroorsaak dat aktiwteite met lompheid uitgevoer word. ‘n Kind met ‘n verlaagde spiertonus in sy hande is baie algemeen, hierdie kind kan dalk sukkel om selfs die kleinste vorm van kontrole uit te oefen oor ‘n potlood of skêr. Vingerbewegings kan baie veeleisend wees vir kinders met ‘n verlaagde spiertonus.
Hande is die gereedskap wat die meeste gebruik word om werk en speel te bemeester en om daaglikse aktiwiteite uit te voer. Indien ‘n kind se fynmotoriese vaardighede onvoldoende ontwikkel is, beïnvloed dit die inname van sensoriese inligting van die omgewing en die ervaring daarvan op haar/sy wêreld. Die kind kan dalk ook agterstande toon wanneer hulle leer om in te kleur, ‘n skêr te gebruik, klere vasmaak, eetgerei moet vashou, ens.
Maar hoe beïnvloed fynmotoriese vaardighede inkleur tussen die lyne?
Daar moet in ag geneem word dat ander faktore ook ‘n rol kan speel in inkleurvaardighede, maar ons gaan net fokus op fynmotoriese vaardighede. Van ongeveer die ouderdom 3 jaar begin ‘n kind bewus word om tussen die lyne in te kleur, maar omdat potloodgreep nog nie voldoende ontwikkel is nie, is die kontrole en presisie nog nie voldoende nie. Van ongeveer 5 jaar behoort die kind ‘n dinamiese driepunt greep te demonstreer. Die potlood word beheer deur individuele vingerbewegings wat ‘n kind in staat stel om bewegings met presisie en kontrole uit te voer om sodoende ‘n inkleurtaak voldoende uit te voer. Indien fynmotoriese vaardighede ouderdomstoepaslik ontwikkel is, stel dit die kind instaat om inkleurtake suksesvol te kan voltooi met die nodige kontrole om tussen die lyne te bly. In teenstelling sal dit baie uitdagend vir ‘n kind wees om tussen die lyne te probeer inkleur indien hulle nie bewegings met voldoende beheer, kontrole en presisie kan uitvoer nie. Soos wat die kind ouer, word is dit belangrik dat hulle inkleurtake korrek uitvoer van links na regs sodat die gewrig in ekstensie is. Dit is belangrik aangesien dieselfde posisie in skryfvaardighede gebruik word.
Inkleurtake help ook met die ontwikkeling van oog-hand koördinasie. Verder help dit ook met konsentrasie en dit maak die kind bewus van grense. Die vaardighede wat ‘n kind leer deur in te kleur vorm die fondasie vir skryfvaardighede in formele onderwys; om voldoende potloodbeheer uit te oefen vir die vorming van letters en om op die lyn te kan skryf.
Inkleur, is dus nie net inkleur nie. Dit vorm deel van ‘n groter prentjie van ontwikkeling en funksie wat nodig is vir skryfvaardighede. So indien fynmotoriese vaardighede nie voldoende ontwikkel is nie, gaan dit inkleurtake belemmer wat heelmoontlik gaan lei tot probleme met lettervorming en potloodkontrole. Die kind se selfvertroue gaan ook dalk ‘n knou kry aangesien hulle gaan voel asof hulle nie instaat is om take of aktwiteite suksesvol uit te voer nie.
Monique Harris, Arbeidsterapeut, 0743598192, moniqueharris77@yahoo.com
Bron: Schneck, C. M., 2010. Development of childhood occupations and evaluations and internvention to develop hand skills. In: Occupational therapy for Children. Missouri: Mosby Elsevier.