‘n Nuwe baba in die huis
Wietske Boon
Ek is drie jaar oud. My hele lewe lank nog gee Mamma en Pappa al hul aandag net aan my. Hulle speel en gesels met my. Wanneer ek gaan bad, kan ek lekker in die water speel en plas. Wanneer ons winkel toe gaan, bederf Mamma of Pappa my soms met iets lekkers of iets waarvan ek hou. Al die speelgoed in die huis is myne. Wanneer ons by vriende kuier, groet almal my vriendelik en maak ‘n bohaai oor hoe oulik ek is en hoe groot ek geword het. Nou verwag Mamma ‘n nuwe baba! Wat ek nie verstaan nie, is waar het die baba vandaan gekom? Almal vertel my ‘n ander storie en ek weet nie meer wie om te glo nie. Dan is ek boonop bang dat alles gaan verander: gaan Mamma en Pappa nog net so lief vir my wees? Wie gaan met my speel, want ek hoor babas hou mammas baie besig. My speelgoed is vir my spesiaal, sê nou net die baba vat alles en breek dit! Ek weet darem nie van die hele baba-besigheid nie...”
‘n Nuwe baba in die huis hoef nie ‘n traumatiese gebeurtenis vir ‘n kind te wees nie. Hier is ‘n paar riglyne om die aanpassing makliker te maak.
Tydens die swangerskap
- Wanneer julle uitvind dat daar ‘n nuwe baba oppad is, vertel dit vir jou kind. Gee hom die geleentheid om vrae te vra en beantwoord dit eerlik, op sy vlak. Daar is boeke beskikbaar wat vir kinders verduidelik waar babas vandaan kom en wat die meeste van hul vrae beantwoord. “Waar kom babas vandaan?” geskryf deur Sally Ann Wright en Honor Ayres (Lux Verbi) is ‘n goeie voorbeeld van so boek.
- Wees altyd eerlik (op ‘n vlak wat hy verstaan) oor wat hy kan verwag wanneer die nuwe baba gebore is. Daar gaan lekker tye wees wanneer hy kan help met die versorging, maar by tye gaan die baba huil en baie van mamma se tyd verg.
- Kyk saam deur fotos van sy babajare en gesels met hom oor waarvan hy gehou en wat hy gedoen het.
- Wanneer julle die dokter besoek, neem hom saam om na baba se hartklop te luister. Dit is ‘n spesiale ervaring vir julle, net so is dit ‘n spesiale ervaring vir hom ook.
- Betrek jou kind by die kies van ‘n naam vir haar nuwe boetie of sussie. Maak dit pret en lag en gesels daaroor.
- Betrek hom by die inrig van die babakamer. As hy na ‘n ander kamer moet skuif, berei hom voor en verduidelik vir hom waarom dit nodig is.
Wanneer baba gebore word
- Om die verhouding tussen ousus en die nuwe baba op ‘n hoë noot af te skop, gee vir haar ‘n geskenk wanneer sy die eerste keer vir mamma en baba in die hospitaal besoek.
- Neem 'n foto van haar saam hospitaal toe en sit dit op die kassie langs die bed, sodat sy kan sien dat sy steeds ‘n belangrike rol in julle lewens speel.
- Om haar meer in beheer te laat voel oor die nuwe situasie kan, wanneer sy die eerste keer die baba gaan ontmoet, sy saam met pappa die baba in die babakamer gaan haal en na mamma se kamer toe bring
Wanneer baba huis toe kom
- Laat haar toe om wanneer mamma en baba tuis kom, vir baba die huis gaan wys.
- Koop vir haar ‘n babapop wat sy kan voer, doek aansit en haar ma se gedrag kan naboots Dit gee haar sin van beheer oor haar situasie asook die geleentheid om die verandering te verwerk en positief te hanteer. Ouboet kan dalk sy teddie of sagte speelding versorg.
- Betrek haar by die versoring, vra haar byvoorbeeld wat sy dink die baba moet aantrek. Laat sy, indien oud genoeg, help met take soos badtyd.
- Maak tyd om aandag aan háár te gee, al beteken dit dat ouma ‘n uur na baba moet kyk. Dit is belangrik dat sy ervaar dat julle nog net so lief vir haar is en dat haar behoeftes nogsteeds vir julle prioriteit is.
- Daar moet steeds duidelike grense gestel word in terme van wat aanvaarbare gedrag is en wat nie. Sy kan moontlik onseker wees wat toelaatbaar is met die nuwe baba by die huis.
- Wees geduldig en gee baie liefde.
- Vra familie en vriende om haar eerste te groet en ‘n geselsie te maak of gee haar die geleentheid om haar babasussie of –boetie aan die mense voor te stel.
- Ousus kan moontlik tekens van regressie toon, byvoorbeeld dat sy weer wil bottel drink of glipsies het. Dit is háár manier om die verandering te hanteer. Soms raak kinders jaloers of aggressief. Indien julle bekommerd raak oor haar gedrag, sal dit baie waardevol wees om vir haar ‘n afspraak by die spelterapeut te maak om haar te help om haar emosies te verstaan en by die verandering aan te pas.
Wietske Boon – Spelterapeut; www.childtherapist.co.za; wietske@childtherapist.co.za