Die waarde van speel
Nicolene du Preez
Jare se navorsing het die waarde van speel bevestig. In die vroeë ontwikkelingsjare word belangrike vaardighede ontwikkel deur te speel. Baie van hierdie vaardighede word op geen ander manier ontwikkel nie. Wanneer kinders byvoorbeeld babbel – wat speels plaasvind - leer hulle om nuwe klanke te maak, wat belangrik is vir die aanleer van ‘n taal. So leer kinders ook hulself om te kruip, te staan en te loop deur herhaaldelik op ‘n speel-speel wyse te oefen. In die voorskoolse jare neem kinders deel aan rollespel, hulle leer wie is ‘n leier, ‘n volger, wie is gemaklik om te sosialiseer en wie is skaam. Hulle leer ook op die speelgrond om konflik op te los en te onderhandel. Vir hierdie redes, en nog vele meer, moet kinders soveel as moontlik aan verkillende tipes spel blootgestel word.