Tuisbladsy

Wie is ons

Affilieer by VVOS

Geaffilieerde skole

VVOS seminare

VVOS werkswinkels

Kleuterskool registrasie

Inligting vir ouers

Inligting vir versorgers

Terapeute

Nuusbrief

Foto-album

Beskikbare poste

Kontak ons

Lys van uitstallers

English


Egte Afrikaanse prenteboeke: So skaars en kosbaar soos diamante
Prof. Maritha Snyman

Afrikaanse prenteboeke vir kleuters is gelukkig nie so skaars soos hoendertande nie. Gelukkig nie. Daar is 35 bladsye vol Afrikaanse prenteboeke op Graffitti-boekwinkel se webblad (http://www.graffitiboeke.co.za. Kyk gerus daar. Dis die maklikste plek om ’n verskeidenheid Afrikaanse kinderboeke te bekom.) Die probleem is dat verreweg die meeste van die prenteboeke wat beskikbaar is, sogenaamde ko-produksies is. Dit verwys na prenteboeke wat uit ander tale vertaal word na Afrikaans.

Daar is baie goeie redes waarom dit so is. Dit is baie makliker vir uitgewers om ’n klaar geskrewe en geïllustreerde teks te koop as om te sukkel met ’n oorpronklike manuskrip, die regte illustreerder en die hoë koste van volkleurboeke. As die verkope van plaaslike boeke nie die koste dubbel en dwars regverdig nie, word hulle doodeenvoudig nie uitgegee nie. Elkeen van ons wat Afrikaanse kinderboeke koop, kan dus ’n invloed hierop uitoefen.

Vertalings is bruikbaar en noodsaaklik, maar is in my boekie nie regte, egte Afrikaanse prenteboeke nie. Dis nie prenteboeke wat hier in ons veelkleurige land geskryf, geïllustreer en gepubliseer is nie.  Dis nie Suid-Afrikaanse talent wat in vertaalde boek aan die werk is nie en vertaalde boeke verbeeld nie die wêreld wat ons en ons kinders ken nie. Dis noodsaaklik dat kinders boeke lees en prente sien waarmee hulle kan identifiseer en wat hulle eie werklikheid verteenwoordig.

Dit is dus goed dat daar deesdae al hoe meer oor en weer vertalings van prenteboeke in die verskillende landstale voorkom. Dit brei ook kleuters se siening van hulle omgewing uit omdat hulle Afrikaanse prenteboek lees wat uit ’n ander perspektief as hulle eie perspektief geskryf is. Soek in hierdie verband na boeke van Wendy Hartman of Diane Hofmeyer, byvoorbeeld. Koop vir kleuters die wonderlike Sisi gaan skool toevan Wendy Hartman met die allerliefste illustrasies van Joan Rankin. Dié prenteboek bevat vyf kort storietjies. Woorde word spaarsamig gebruik, maar deur illustrasies en teks, beleef ons ons eie wêreld deur die oë van Sisi: ’n haas, met persoonlikheid en moed. Dit is wonderlik om te ervaar hoe kleuters die spanning in die stories, wat hoofsaaklik deur die illustrasies geskep word, met die tweede en derde lees opgewonde raaksien. Daar is nog sulke boeke. Joan Rankin se bekostigbare Eerste dag oor die Skolliebulliebons se eerste skooldag is ’n boek om beslis te oorweeg as jy ’n kleuter ken wat moet skool toe gaan.

Van al die prenteboeke wat hierdie jaar oorspronklik in Afrikaans verskyn het, is Marita van der Vyver se Die coolste ouma op aarde beslis die moeite werd. Op elke bladsy lees ons oor ’n bepaalde soort ouma wat elkeen van ons al raakgeloop het. Van der Vyver breek in die boek ’n lansie vir oumas wat in baie prenteboeke as gryskop, breiende, antieke karakters uitgebeeld word. Beslis ’n regte egte plaaslike prenteboek.

Nog twee nuwe, oorspronklike Afrikaanse kinderboeke van 2015 wat my oog gevang het, is albei deur Wendy Maartens. Bybelstories vir kinders bevat kort stories uit die Ou en Nuwe Testament wat op ’n vars en eenvoudig manier geskryf is. Die boek is kleurvol en plesierig in Maartens se herkenbare sprankelende Afrikaans. In hierdie boek se illustrasies kan mens plaaslike elemente en plekke herken. Dit gee die boek ’n heel ander gevoel as die Bybelstories waaraan ons gewoond is.

Maartens se Diere-ABC is ook herkenbaar plaaslik. Met lawwe ABC-rympies leer kinders die letters én plaaslike diere ken. Mens kan jou verlekker hoe Maartens mens die woorde as’t ware laat proe. Die boek bevat ook ’n plakkaat van die alfabet as ’n bonus.

Dit is baie goed om 'n Afrikaanse boek in ’n kleuter se kersfeeskous te sit. Dis nog beter om dit ’n regte egte Afrikaanse prenteboek te maak.

Ander Suid-Afrikaanse prenteboeke wat ook in Afrikaans vertaal is 

Noko en die koel katte deur Fiona Moodie

Geskik vir lesers van 3 tot 6 jaar.

en

Hagedash die hadeda deur Charles de Villiers

Die derde titel in Struik Oorspronklike Afrika-verhale- reeks geskik vir ouer kleuters

Vertaalde kinderboeke

Vertaalde kinderboeke wat sing in Afrikaans is Julia Donaldson  se klassieke boeke vertaal deur die nimlike Philip de Vos. Rowerrot, Stokman, Zok,Kris de Kat, Towerwurm en Tjokkie is in die taal van die Goorgomgaai se verteller, lekkerder as lekker om voor te lees heerliker as heerlik om na te luister. Hierdie ouma weet dit eerstehands.

 

Prof Maritha Snyman

 



Webwerf deur Ontowebmedia en Inligtingsdienste