Totsiens doeke! - kommunikasiebrief vir ouers
Mariette van Eeden
Liewe Mamma en Pappa
Jul peuters word nou vinnig groot, en wil nie meer stilsit op die skoot, die woordeskat ontwikkel ook gou, maar as hul begin terugpraat mag hul dit dalk berou!
Menige ouer wil nou hê dat ons finaal vir die doeke “TOTSIENS!” moet sê.
So maklik is dit egter nie..... want beheer oor blaas en stoelgang kan nie “aangeleer” word as die kleuter se liggaamlike-, fisiologiese-, anatomiese- en emosionele ontwikkeling nie ten volle ontwikkel is en as’t ware 100% gereed is daarvoor nie. Die senuwees na die blaas en die rektum moet ook voldoende ontwikkel wees om die boodskap oor te dra dat die urine of ontlasting uitgeskei moet word (Babasorg boek – Dr. M. Stoppard).
Ons kyk ook na die woordeskat van elke kleuter om dit wat hy moet doen in woorde te kan sê, hom- of haarself met gemak al redelik te kan uittrek en weer die broekies kan optrek. Kleuters moet ook die nodige higiëne soos handjies was verstaan en hulself kan help indien nodig. Verder moet kleuters voldoende beheer oor die spiertjies hê en is die feit dat hulle vir ‘n tydperk van 2-3 ure droog kan bly ook ‘n goeie maatstaf.
Wat word van die Ouers verwag?
- Om moontlik vir ‘n tydperk van ‘n paar maande die “beplanning” en “ongemak” te verduur, en eerstens self gereed te wees voordat toiletonderrig begin.
- Om soms ‘n doek aan te sit en dan af te wissel met ‘n onderbroekie verwar die kleuters en weet hulle dikwels nie wanneer is ‘n glips in die doek of broek dan “toelaatbaar” nie.
- Kleuters wat toegelaat word om kaal boudjies rond te loop omdat dit die proses vergemaklik, vind dit moeilik by die skoolroetine en dissipline, aangesien dit nie hier toegelaat kan word nie!
- Om vinnig die broekie af te trek en buite te staan is ook nie werkbaar by die kleuterskool nie!
- Ouers moet voldoende skoon broekies, onderbroekies, wet wipes en boudjiesalf saam stuur totdat alle betrokkenes oortuig is dat die kleuter die toiletonderrig ten volle bemeester het.
ALLE KLEERTJIES MOET ASSEBLIEF DUIDELIK GEMERK WEES!
Handige wenke om die toiletonderrig makliker en moontliker te maak:
- Maak die hele proses PRET en laat die kleuters self hulle onderkleertjies kies en selfs gaan koop.
- Trek gemaklike, los klere aan wat maklik op- en afgetrek kan word – veral in die begin.
- Waak daarteen om kleuters te verwar met soms ‘n doek en dan nie – veral met slaaptyd of wanneer inkopies gedoen word.
- Moenie raas of baklei wanneer glipsies gebeur nie. Prys eerder die “goeie gedrag.”
- Wees in beheer van die situasie – ferm en rustig – woorde soos “ kom ons gaan badkamer toe” eerder as “ wil jy gaan piepie?” Bitter selde sal die kind badkamertyd kies bo speeltyd wat baie lekkerder is.
- Badkamertyd behoort ‘n aangename, gemaklike ervaring te wees wat gemiddeld 3-5 minute duur – hou ‘n boekie gereed, sing liedjies.
- Beloningskaarte met plakkers dien ook as motivering.
- Oefen en leer van die begin af goeie toilethigiëne aan deur korrekte afvee, spoel en handjies was in te oefen.
- Neem kleuters aanvanklik elke 15- 20 minute, dan elke 60 minute, dan 90 minute of wanneer die kleuters vra of aandui dat hulle wil gaan.
Gesels gerus wanneer julle enige vrae of onduidelikhede ondervind. Ons help graag waar ons kan!!
HANDTEKENING (ouer)