Speel is die sleutel tot ontwikkeling
Liesel Brummer
Navorsing toon dat speel ‘n algemene fenomeen is wat by kinders reg oor die wêreld voorkom. Kinders speel op hul eie, langs maats, saam met maats, en interaksie met volwassenes vind ook plaas. Speel is ‘n spontane interaksie wat tussen mense plaasvind. Is dit nie wonderlik om te weet dat soveel leer tydens speel kan plaasvind nie?
Ons is almal deeglik bewus van die belangrikheid van ons kinders se eerste paar jaar van ontwikkeling. Die Kanadese “Council on Learning” beweer dat leer in die eerste vyf jaar van ‘n kind se lewe kritiese implikasies het ten opsigte van hul welstand, latere sukses op skool, sukses op beroepsvlak asook die interaksies op ‘n sosiale vlak.
Met bogenoemde in ag geneem, bied speel vir kinders ‘n platvorm vir leer. Kinders kan die wêreld om hulle ondersoek, ontdek en ervaar en op die wyse nuwe kennis bekom. Leer vind op meervoudige vlakke plaas wat kan lei tot optimale ontwikkeling . Dus kan ons met gemak sê dat speel ‘n spontane interaksie by kinders is en van onskatbare ware is vir ‘n kind se ontwikkeling.
Die groot vraag is nou, hoe kan geleenthede geskep word vir spel in ‘n besige gejaagde lewe?
Dit is goed en wel om die vraag te vra, maar waarom sou ek my handelinge verander om hierdie aspek te akkomodeer in my bedrywige lewe van werk en versorging?
Dit is inderdaad ‘n kopskuif wat gemaak moet word. Die fokus moet skuif van formele leersituasies na ‘n informele, ontspanne speel-georiënteerde benadering.
UNICEF het in 2018 ‘n skrywe gepubliseer wat klem lê op die waarde wat Speel-geïntegreerde-leer op die verskeie ontwikkelingsfases het.
Geboorte tot 2 jarige ouderdom (Eerste 1 000 dae na geboorte) |
Genoegsame stimulasie kan neurologiese ontwikkeling bevorder deur te fokus op ‘n veilige, liefdevolle omgewing wat interaktiewe- asook speel-georiënteerde stimulasie bied. Sterk bande en geborgenheid lei dan tot positiewe sosiale en emosionele ontwikkeling.
|
3 tot 5 jarige ouderdom |
Spel bied geleentheid om te ontdek, ervaar en na te boots. Ontwikkeling vind plaas op ‘n sosiale, kognitiewe en emosionele vlak waar vaardighede beproef en aangeleer word sonder dat die kind dit besef. Spel vind plaas deur interaksie, rolspel (dogtertjie beeld die rol van mamma uit), liedjies en rympies, blokspel, fantasiespel en gestruktureerde spel om maar net ‘n paar te noem. |
6 tot 8 jarige ouderdom |
Speel-georiënteerde leer bly steeds van kardinale belang vir hierdie ouderdom. Speel word so dikwels vervang met ‘n formele akademiese aanslag. Bestaande kennis word versterk en uitgebrei deur van spel gebruik te maak. Probleemoplossingsvaardighede en kritiese denke word aangewakker en dra by tot die nuuskierigheid en leergierigheid wat by kinders ontlok moet word. |
Die vraag bly steeds: “hoe skep ‘n mens geleentheid vir spel in ons gejaagde lewe?”
‘n Kind se huislike omgewing dien natuurlik as sy eerste kennismaking met speel en leer. Interaksie tussen die versorger en die baba dien as die eerste kennismaking met verhoudings, emosies en mense verhoudings. So leer ‘n kind dat sy reaksie lei tot ‘n teenreaksie, byvoorbeeld deur te huil vir voeding of moegheid. Speletjies soos “peek-a-boo” stel kinders bloot aan voorwerppermanensie wat hulle leer dat ‘n voorwerp steeds bestaan al kan dit nie meer gesien word nie. Dag-tot-dag aktiwiteite kan die ontwikkelende kind leer van basiese wiskundige konsepte, byvoorbeeld om die tafel te dek en die borde en eetgerei te tel. Fyn motoriese ontwikkeling vind ook plaas as die kinders moet fyn vat om die eetgerei te hanteer. Kommunikasie tussen die versorger en die kind kan lei tot die ontwikkeling van spraak en taal. Speel in die bad met verskeie speelgoed kan konsepte soos dryf en sink op ‘n informele wyse bekendstel.
Interaksie tussen maats bied ook natuurlik ‘n leerryke omgewing waar nuwe kennis beproef word. Rolspel, fantasiespel en gestruktureerde spel is ‘n heerlike platvorm vir sosiale, emosionele en kognitiewe ontwikkeling. Volwassenes kan speelgeleenthede skep deur verskillende media of apparaat aan kinders te gee. ‘n Voorbeeld hiervan is houtblokke wat kinders kan gebruik om verskillende konstruksies te gebou. Groot motoriese vaardighede soos beweeglikheid tydens die bou van konstruksie asook vaardighede soos middellynkruising ontwikkel. Hulle word gekonfronteer met uitdagings om hul doel te bereik wat dui op probleemoplossing en kreatiwiteit. Dit gebeur dikwels dat kinders eers die reëls van ‘n speletjie moet bepaal voordat hulle kan toetree tot spel. Reëls word baie keer tydens spel aangepas wat ook weer lei tot verdere sosiale ontwikkeling. Kinders leer hoe om hulself te handhaaf in ‘n situasie en meningsverskille te hanteer.
Hierdie is maar net ‘n paar voorbeelde. Spel hoef nie met duur speelgoed gepaard te gaan nie. Gebruik dit wat jy tot jou beskikking het om interaksie aan te moedig, of bloot net die skep van ‘n speelgeleentheid vir jou kind.
Dit is duidelik dat speel ‘n noemenswaardige verskil in die ontwikkeling van kinders maak en dat ons beslis ‘n kopskuif moet maak tussen formele onderrigsituasies na ‘n speel-georiënteerde benadering.
Is ons doel nie juis om ons kinders toe te rus met selfvertoue, positiewe sosiale vaardighede, kreatiwiteit, probleemoplossing, emosionele intelligensie asook die vermoë om krities na die wêreld om hulle te kyk nie?
Kom ons skep speel geleenthede wat elke kind in staat sal stel om sy volle potensiaal te ontwikkel om in die toekoms as volwaardige, verantwoordelike volwassenes op te tree.