Tuisbladsy

Wie is ons

Affilieer by VVOS

Geaffilieerde skole

VVOS seminare

VVOS werkswinkels

Kleuterskool registrasie

Inligting vir ouers

Inligting vir versorgers

Terapeute

Nuusbrief

Foto-album

Beskikbare poste

Kontak ons

Lys van uitstallers

English


Vakansie Aktiwiteite vir Jong Kinders
Maroli Bezuidenhout-Visser

Die jaar snel ten einde en al wat ‘n winkel is, is getooi in kersversierings en speelgoeduitstallings!  As ‘n mamma van drie het ek baie begrip en meegevoel met al die ander ma’s wat graag die Kersvakansie wil gebruik om kwaliteittyd met hulle krosies deur te bring, maar na ‘n week wens dat die skole tog net vroeër kon begin….

 

Ek hoop dat die aktiwiteitsidees wat volg die vakansie wel “korter” sal maak, maar ook lekkerder!  Hopelik bou jy liefdevolle herinneringe by jou kinders hierdeur.

 

Buitelugaktiwteite bly Nommer Een vir gesinne gedurende die somermaande.  Heerlike pret in die son is ‘n voorreg wat ons in Suid-Afrika gedurende die Kersvakansie het.  Dit is die ideale tyd om daardie groter spiertjies te stimuleer wat so noodsaaklik is vir die ontwikkeling van koördinasie in die voorskoolse jare.  Swem, hardloop, swaai, fietsry, klouter op klimrame en trampolienspring doen dus baie meer vir ‘n groeiende lyfie as wat ‘n mens dink. 

 

Dit verbaas my om te sien hoe laerskoolkinders “outydse” speletjies geniet, bv. “Name, Vanne, Diere, Dorpe”, Slangetjies en Leertjies en ander bordspeletjies.  Balspeletjies (bv. “Eggy, eggy”, Sewetjie en Bok in die Hok) kan heerlik by vakansieterreine gespeel word.  Ek is seker julle sal self aan nog baie ander speletjies uit julle kinderdae kan dink.  

 

Kreatiwiteit kan gestimuleer word deur bv. kerskaartjies en/of geskenkies te maak met huishoudelike artikels, bv. graankosbokse, koerante, knope, wol, materiaal ens.  Soms is die proses van die aktiwiteit vir die kinders meer waardevol as die kwaliteit van die eindproduk.

 

Onthou om ook die fyn motoriese vaardighede (fyn spiere en handgebruik) by voorskoolse kleuters te help ontwikkel.  Daar is baie pretaktiwiteite wat jy kan inspan:

 

1.      Steek die speelgoed weg:  Steek klein plastiese diertjies in ‘n groot bol speelklei weg wat jou kind moet soek deur die klei met die vingertjies te oop te trek.  Laat jou kind bv. vooraf 5 objekte kies waarvan 3 weggesteek gaan word.  Sodoende word geheue en konsentrasie ook gestimuleer.

2.      Stempelwerk:  Deurweek ‘n ou waslap met verf en plaas in ‘n skinkbord.  Enige objek kan gebruik word as ‘n stempel, soos bv. ‘n plastiese karretjie wat oor die waslap ry en daarna oor ‘n skoon stuk papier.  Gebruik ‘n volgende keer weer  plastiese koppies, blare, sponsies of vorms van vormsorteerborde om af te druk.  Hoe groter die stuk papier,hoe beter! Moedig hulle aan om die hele stuk papier te gebruik.

3.   Gom:  Maak self gom deur ‘n halwe koppie meel en ‘n driekwart koppie koue water te meng tot ‘n dun pasta.  Kook die mengsel vir ‘n paar minute oor ‘n stadige hitte totdat dit verdik.  Roer die hele tyd. Verdun dan met koue water en laat afkoel. Gebruik dit om prente, collages, kaartjies, ens. te maak.  Verf die gom in patrone en gooi sand daaroor, of plak macaroni vas en verf dit met waterverf.  

 

Die moontlikhede is nimmereindigend!  Ongelukkig beperk oormatige gebruik van tegnologie ons eie, asook ons kinders se kreatiwiteit en verbeelding.  Dit raak al moeiliker vir kinders om hulleself besig te hou, veral as daar nie nóg ‘n speletjie op die IPad, Tablet of selfoon beskikbaar is nie.  En as jou eie idees opraak?  Gaan “google” bietjie, jy sal verbaas hoeveel speletjies daar is om jou kind besig te hou...

 

Geniet die vakansie!

 

Maroli Bezuidenhout-Visser is 'n arbeidsterapeut in Centurion. 

Kontak haar by sel nr: nul 82 308 5263 of e-pos: marolibez(at)hotmail.com

Read a similar article in English: http://www.aecyc.co.za/bestuur/engartikels/aecycarticle37.html



Webwerf deur Ontowebmedia en Inligtingsdienste